Dalene Matthee
Description
Dalene Matthee is in 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Altesaam 13 boeke het uit haar pen verskyn. Hoewel sy haar loopbaan met kinderstories en kortverhale begin het, is sy vandag veral vir haar vier “Bosboeke” bekend: Kringe in ‘n bos, Fiela se kind, Moerbeibos en Toorbos. Elke boek is deur deeglike navorsing voorafgegaan. Haar boeke is in 14 tale vertaal, en Kringe in ‘n bos en Fiela se kind word reeds vir meer as 20 jaar as voorgeskrewe boeke in skole gebruik. Haar werk is onder meer met die ATKV Prosa-toekenning (vier maal), die Suider Afrikaanse Instituut vir Boswese-toekenning (twee maal), die Switserse Stab-toekenning en die Departement van Kuns en Kultuur se SA Literêre Toekenning (postuum) bekroon. Sy is ook die enigste Afrikaanse skrywer van wie meer as 1 miljoen boeke in Afrikaans in Suid-Afrika verkoop is. Sy is op 20 Februarie 2005 oorlede en ‘n gedenksteen is vir haar in die Knysna-bos opgerig. From [Memorial Page](
Books
Die uitgespoeldes
Moses Swart, skaapwagter van die Bredasdorpse strandveld, voel sy hele lewe lank nog dat hy nie hoort in hierdie land van see- en veldmense nie. Hy is 'n uitgespoelde, maar waar kom dié knaende gevoel van 'n ander identiteit vandaan? Totdat hy Lord en Lady van Springfield ontmoet en dadelik besef: hulle is ook uitgespoeldes, soos hy. Dalene Matthee se heel laaste roman bied 'n historiese verhaal uit die 1950's met 'n besondere bekoring. Soos haar vorige trefferromans verbeeld dit weergaloos die mistieke verbondenheid tussen mense wat op die onsêbare vlak lê.
Toorbos
Toorbos is ´n bosromanse. Dit is die storie van ´n ingewyde 'bosvrou' se intieme verbintenis met die boomhart van die bos, en hoe dit ´n hindernis geword het in haar belewenis van die man wat sy liefkry. Karoliena Kapp is ´n alleenkind wie se moeder drie mans gehad het, en wat as werklik onsimpatieke ma figureer. Haar pa is vroeg-vroeg deur 'n weerligstraal doodgeslaan, en sy aanvaar die bos as haar oermoeder. Karoliena is mooi; sy word vroeg-vroeg raakgesien deur ´n man, Johannes, ´n boswerkerskind wat hom uit die wurggreep van die bos-armoede losgewikkel het. Nog voor sy twintig is, word Karoliena "afgetrou" met hom, en moet sy ´n dorpseggenote word nadat sy geskool is om haar plek in hierdie hiërargie in te neem. Die wêreld van die bos en van die dorp word in fyn teenstelling tot mekaar geskilder. Dit is twee ordes van bestaan. In die bos is daar ´n mistieke ervaring moontlik – dit is die soort vervoering wat Karoliena soek – terwyl die dorpsbestaan aan ´n selfgerigte geldsoeke gewy word. Sy is verlief op Johannes – baie ouer as sy – en is half-betower deur die nuwe vooruitsigte wat hy vir haar bied. Maar Karoliena gebruik die heel eerste geleentheid om weg te loop van Johannes, reguit terug bos toe. Want die dag na die huwelik weet sy dat daar "iewers, iewers iets verskriklik verkeerd" is. Sy het die verkeerde keuse gemaak: sy het van die bos weggevlug. Sy het haar kosbare vryheid verruil vir ´n kou. Nou is sy bang. Sy vat dus die pad terug bos toe, terwyl die pietjiekanarie sonder ophou roep: "wie´s-jy, wie´s-jy".
Pieternella van die Kaap
Die verhaal van Pieternella, dogter van die Deense sjirurgyn Pieter van Meerhoff en van die Hottentottin Krotoa-Eva, wat na Robbeneiland verban is. Teen hul sin word die veertienjarige Pieternella en haar jonger broer, Salomon, na voogouers op Mauritius gestuur – ‘n ontstuimige seereis wat die aanloop is van baie ontberinge. Dié historiese roman gee ‘n nuwe perspektief op die wrede vroeë geskiedenis van Robbeneiland, asook van die destydse strafkolonie Mauritius. Pieternella van die Kaap is die resultaat van drie jaar se intensiewe navorsing.
Susters van Eva
Wat het Jessie de Waardt besiel om haar babadogtertjie in ´n kuil te verdrink nadat sy haar eers drooggemaak en gevoed het? En wie was die pa van die kind wat elf maande na haar man, Ses, se dood gebôre is? Hierdie vrae spook by die vroue op die Rôeveldse plase in Grootberg-se-Kloof terwyl Jessie by ´n bobbejaantrop skuil om speurders te ontwyk. Haar verdwyning kwel ook die mans, want Jessie se aardse vroulikheid het elkeen van hulle kwesbaar gemaak. Deur die oë van vier vroue ontvou die verhaal van Jessie en Ses se saamwoon in liefde en haat, en van die geheime en hunkeringe in die vrouelewens waarmee hare verweef geraak het.
Brug van die esels
Vir Araminta Rossouw het diamante ´n magiese aantrekkingskrag: nie vasgeklamp in ringe of in koningskrone en septers nie, maar ongeslyp en vry in die palm van haar hand, in die holtes van haar African violet se blare, of op haar vensterbank waar hulle met die berg kan gesels. Diamante is klein klippies, heilig, waarin oerlig gebêre is. En hulle straal iets uit: as sy hulle vashou, weet sy of hulle gelukkig is of nie. Om mense uit ´n geldelike verknorsing te help, gaan verkoop sy vir hulle diamante in ´n krotterige Kaapse buurt, en daarmee gaan ´n kortpad na vryheid vir haar oop. Sy wat as wit kind van Afrika verwerp voel, en gedoem tot ´n ewige struggle; wat wil padgee na ´n land waar dit moontlik is om gewoon te leef sonder skuldgevoel, en by geluk uit te kom. Dit was toe sy op universiteit in die geskiedenis van die Afrikanervolk gaan delf het om haarself te probeer vind dat sy op ´n barsie afgekom het wat deur alles loop en waarvan iemand haar ooit gesê het nie. ´n Bars wat al groter word, en wat almal en alles aantas. Nou sien sy geen keuse nie: sy moet self op dié bars langs loop. Want as eiendomsagent sal sy nog baie kommissie moet verdien om vlerke te kan hê vir wegvlieg, maar diamante bied ´n vinnige ontsnaproete. Gevaarlik, maar onweerstaanbaar. Só begin ´n spel met die fassinerende blink klippies wat haar in ´n krisis laat beland wat sy met haar noukeurige berekenings nie kan voorsien nie. En wanneer alles verlore lyk, kom Koos Malharbe as prokureur in haar lewe. Hy wat genoeg gesien het om te weet dat dit ´n mens nie baat om ´n brug bo-oor die waarheid te probeer bou nie.
Fiela se kind
God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ´n kind aandoen nie. Aan die een kant van die berg, in die Lange Kloof, woon Fiela Komoetie, verknog aan haar hanskind – deur die Here aan haar ‘toebetrou’ een nag toe sy hom as driejarige gekry het waar hy voor haar deur staan en huil, ´n weggooilam. Aan die ander kant van die berg, in die Bos, woon die houtkapper Elias van Rooyen en sy vrou Barta, wie se driejarige kind weggeraak het. Die een kind is Benjamin Komoetie, die ander Lukas van Rooyen. Is dit dieselfde mens? Kon ´n klein kind so ver geloop het, uit die Bos tot in die Lange Kloof? Dié vraag word nege jaar later oopgekrap deur twee sensusmanne wat deur die Lange Kloof reis en die wit kind met die blou oë tussen die bruinmense kry. En jare later is dit die vraag wat Benjamin/Lukas self vra: Wie is ek? Hy móét weet, anders kan die vrou wat hy liefgekry het nooit syne wees nie. Die antwoord is daar, weet hy: iewers in homself, diep verskuil in die verlede, bly dit hom ontwyk.
Moerbeibos
Silas Miggel woont in alle rust met zijn dochter in het Knysnabos, totdat op een dag een groep Italiaanse immigranten een tentenkamp opslaat om een zijderupskwekerij te beginnen. Als dit totaal mislukt omdat in de kleigrond de moerbeibomen niet groeien, begint een zware tijd, zowel voor de Italianen als voor Silas en zijn dochter. In de uitzichtloze situatie worden de immigranten gedwarsboomd door de regering. Aanvankelijk staat Silas afwijzend tegenover de Italianen, maar steeds meer ziet hij het als zijn plicht om hulp te bieden.
Kringe in 'n bos
Saul Barnard is 'n houtkapper met 'n rustelose siel - hy wil vreemdes uit die Bos hou en die vernietiging van die Bos probeer keer. Dan is daar 'n legendariese olifantbul - Oupoot - wat losbreek van sy trop ... Oupoot en Saul het 'n vreemde band tussen hulle . In die groen skemerwêreld van die Outeniekwa loop hulle kringpaaie. Saul Barnard, deur sy mense verwerp en deur gewetenlose houtkopers tot kneg verneder; Oupoot, eindeloos agtervolg deur jagters. 'n Man en sy dier-broer - saamgegooi in 'n ongerepte oerbos, wat stuk vir stuk deur gouddelwers, boskappers en ander uitroeiers vernietig word. Saul volg Oupoot se spoor, al nader aan die waarheid wat sy lewe vir altyd sal verander.
